Een van Smiffie se mees getroue bydraers bereik die maand ‘n baie spesiale mylpaal – Hennie Prinsloo word 80! Daarom het Smiffie dit goedgedink om vir dié maand iets oor Hennie te skryf en vir hom `n blaaskansie te gee.
Hennie is in 1927 op die plaas Heuningkrans gebore. Sy ouers was Dawie en Hester. Hulle het destyds op die plaas die Stoeka Jersey-stoet begin en Dawie het ramme vanaf Australië ingevoer om ‘n Merino-stoet te begin.
Toe Hennie ‘n seuntjie was het hy op sy perd Hotnot skool toe gery na die buurplaas Eenzaamkraal. Hieroor het hy al in Smiffie vertel. Dit was `n idilliese lewe vir `n kind met `n ma wat klavier gespeel het en `n pa wat viool gespeel het. Die familie het lekker om die etenstafel gekuier en gesels. Die huis het bekend gestaan as “Die ark” en die geelhout balke in die huis is uit Aliwal-Noord met ossewaens aangery.
In die laat 30-jare moes Hennie na Smithfield gaan vir verdere skoolonderig. Hy het slegs een maal in ‘n kwartaal huis toe gaan omdat dit so ver was. Naweke het hy saam met vriende nader aan die dorp gekuier.
In 1941 is Hennie Grey Kollege toe. Daar het hy homself as ‘n voortreflike sportsman op verskeie gebiede bewys. Hy het natuurlike leierseienskappe openbaar. En hy was kaptein van die tennisspan en die rugbyspan; hy was ‘n langafstandatleet en het provinsiale kleure verwerf. In 1946 was hy skool kaptein.
Op Tukkies het Hennie regte studeer. In 1948 is sy ma oorlede wat ‘n groot slag vir hom was. In 1949 het hy op universiteit die 17-jarige Dolores ontmoet – ‘n jong meisie nuut uit die skool. Hennie was ook vir ‘n ruk op Ikeys maar in 1951 het pa Dawie besluit om weer te trou en Hennie het op Heuningkrans kom boer. Ter-selfdetyd het hy agsteman vir Suid-oos Vrystaat gespeel en het hy ook vir Suid-oos Vrystaat tennis gespeel.
Op 28 November trou Hennie en Dolores. Vier kinders is in die huwelik gebore: Dawid, Eddie, Fana en Hennie asook tien kleinkinders.
In Smithfield is Hennie verkies op die direksie van die Smithfield Handelshuis en was later ook voorsitter van die Smithfield Landbou Vereniging. In 1987 is hy verkies op die Suid-Afrikaanse Wolraad en was later voorsitter van die organisasie. Teen 1989 was hy nie net voorsitter van die Wolraad maar ook van die Nasionale Wolkwekers Vereniging. As gevolg van hierdie prestasie word hy Boer van die Jaar vir die Vrystaat.
Met die Wolraad het Hennie die wêreld vol gereis (hiervan het hy ook al in Smiffie vertel) en so is mense van oral ook op Heuningkrans ontvang – Koreane, Japanese, Australiërs en Nieu-Zeelanders. Die hoogste pos wat hy beklee het was as Vise- Voorsitter van die Internasionale Wol Sekretariaat.
Eers in 1997 het Hennie besluit om uit die Wolraad te tree. Hy wou rustig op Heuningkrans kom aftree. ‘n Jaar daarna het Eddie se gesin te groot geword vir die huis op Insig en het hulle oorgetrek na Heuningkrans en Hennie en Dolores het op Smithfield kom bly.
Hennie se groot liefde is lees en sport op televisie. Hy versorg sy hond, Mampie, speel ‘n bietjie gholf en geniet sy kleinkinders. Hy het baie groot waardering vir sy paar getroue vriende wat gereeld ‘n koppie koffie by hom kom geniet om oor rugby en landsake te gesels.
Baie geluk aan Hennie en mag die jaar wat voorlê alles wat goed en lekker is inhou!
Discussion
No comments for “Hennie Prinsloo op 80”
Post a comment