Hennie

Ou ryperd van my

In die jongste tyd is daar baie oor perde in die media berig. Al die voortreflikhede van die verskillende rasse is uitgelig en beklemtoon.

Dit was te lekker om al die foto’s van al die pragdiere te sien. Dit het ‘n boer se hart sommer weer lekker laat klop. Hulle sê mos daar is twee dinge wat ‘n man se hart vinniger laat klop â€" ‘n mooi perd en ‘n mooi vrou!

Elke perderas het sy eie unieke eienskappe, party vir ‘n goeie temperament, ander vir uithouvermoë, stamina, mooi aksie, vir spoed, ensomeer. Ek gee my nie juis uit vir ‘n perdekenner nie. Mense soos die Wesselse, Le Roux’s, Fouche’s en Pansegrouws is baie beter onderleg as ek. My hele lewe lank spook ek nog maar met plaasperde en het ‘n Arabierhings by my boermerries gesit en baie geskikte plaasperde geteel waarmee ons die plaaswerk kon doen.

Bruin-geelbek perd

Alle perde het ook maar sy karakter en maniere. Ek het so ‘n bruin-geelbek perd gehad (die soort het van tyd tot tyd voorgekom). So ‘n perd het die oumense geglo was van geboorte af beduiweld. Dit het lank gevat om hom mak te kry, maar ek het uiteindelik hom so mooi geleer dat hy agter my aangeloop het. ‘n Mens kon ‘n siek skaap op die saalboom laai, sonder dat hy ‘n oor geroer het. Ongelukkig het hy een nuk gehad. Jy kon hom honderd maal opklim en hy sal doodstil staan en dan sal hy eensklaps skielik as jy jou voet in die stiebeuel sit met ‘n vaart wegvlieg! Toe dit met my gebeur het ek my uit my skoene uitgeval en grond gevreet.

My suster het ‘n perd gehad by name "Sjampyn" waarmee sy skool toe gery het. Sy het by oom Bossie op Draaihoek skoolgegaan ongeveer drie myl van die huis. Smiddae het my ma die koppie uitgeklim en met die verkyker gekyk of my suster aan die kom is. Dit sou dan nog een uur wees voor sy tuis is. Ou Sjampyn was doodgoed en goed dood. Jy kon hom kwalik op ‘n stap kry en nog minder op ‘n galop!

Op dié betrokke dag toe sy nog nie by die huis was na een en ‘n halfuur nie, was my ma baie bekommerd en toe sy weer deur die verkyker kyk sien sy dat Sjampyn voor oom Martiens Bekker se hek staan maar geen teken van my suster Elrie nie! My ma skrik haar toe byna uit haar bloedgroep, skree vir my pa dat hul dadelik moes gaan kyk wat aangaan.

Toe hulle by die hek kom staan ou Sjampyn vas aan die slaap en my sus hang met haar voet in die stiebeuel kop onderstebo ook vas aan die slaap! - gelukkige einde!

All the dancing I’ve done has been alone in the veld, when I’ve jumped in the air and shouted with the joy of living.

Olive Schreiner.

Discussion

No comments for “Ou ryperd van my”

Post a comment

Recent Comments