deur Hennie
Ons is alweer in die nuwe seisoen van die Super 14 kompetisie. Die tweede rondte lé al agter die rug. Sover lyk dit vir ons plaaslike spanne nie te rooskleurig nie, veral teen die oorsese spanne en veral die Nieu-Seeland spanne lyk op die stadium onoorwinlik. Van die Australiese spanne het ons nog nie veel gesien nie behalwe natuurlik die span van die Western Force.
So, nou van ver af beskou lyk dit asof ons Suid-Afrikaanse spanne nie opgewasse is teen die oorsese spanne nie.
Ons voorspelers gee goeie rekenskap van hulle self in die vaste spel en in die los fasette van die spel.
Die agterspelers egter, lyk asof hulle al die tyd op die agtervoet speel. Hulle neem nie die spel na hulle opponente toe nie, maar staan en wag vir die opponente om na hulle te kom. Wanneer hulle dan by ons manne kom is hulle op vol spoed en dan is dit baie maklik om aan ons binnekant verby te glip.
Dan natuurlik die verbroude doodvatte wat so dikwels voorkom!
Ons sien nie meer die gelyke van ‘n Ryk van Schoor en ‘n Joggie Jansen nie.
Daardie plettervat waarmee Ryk vir Allen, kaptein van die 1949 All Blacks op Ellis Park gevat het, het Allen in sy lewe nooit vergeet nie!
Waar is die ysters van die verlede soos ‘n Chris Koch, sy broer Willem, Frik du Preez, Saltie du Rand en ons eie Sep Smith wat vrees by hulle opponente ingeboesem het nog voor hulle op die veld gedraf het. Die enigste hedendaagse speler wat in daardie vorm gegiet kan word is Os du Rand.
Daar kan natuurlik heelwat redes hiervoor aangevoer word, maar ek is van mening dat een van die hoof redes hiervoor is die feit dat die sub-uniestelsel afgeskaf is. Sub-unies het gedurig teen mekaar gespeel en ons het elke jaar op Bloemfontein gespeel. So het spelers onder die aandag van keurders gekom. Vandag bestaan daar amper nie meer klubspanne op die platteland nie. So vir alle praktiese doeleindes is rugby op die platteland morsdood.
Daar het twee van ons Suid-Oos sub-unie in die Springbokkeproewe in 1949 op Loftus Versveld gespeel – Sep Smith, flank en Tim Slabbert, skrumskakel. Sep was gekies vir die Suid-Afrikaanse A-span om te speel teen die Suid-Afrikaanse B-span in die finale proefwedstryd. Hy was deksels ongelukkig om dit nie te maak nie!
Daar was manne soos Smittie Smit, Lukie se ouer broer, Jan Swanepoel en nog ander wat geen Springbokspan in die steek sou laat nie.
Dan het ons ‘n haker gehad met die naam van Blaar Marais. Hy was skraal en seningrig, so taai soos ‘n ratel met geen bang haar op sy kop nie. By geleentheid speel ons teen Oos-Vrystaat op Clocolaan en hulle haker het toe vir Vrystaat gespeel. Toe die eerste skrum sak, druk die outjie Blaar se oë toe. Blaar sê toe vir hom: “Boetie, as jy dit weer doen m…r ek jou!”. Die outjie lag toe maar net. Met die tweede skrum doen hy dit weer, en toe ons sak vir die derde skrum slaan Blaar die ou met die kop tussen die oë dat hy soos ‘n sak ertappels tussen sy stutte hang. Blaar steek toe sy kop by die skrum uit en se vir die skeidsregter: “Mr Ref, man down!”. Die outjie het toe nie weer op die veld verskyn nie! In die jare wat ons saam gespeel het, het ‘n ander haker nooit ‘n bal by Blaar gevat nie – en daar was Springbokke onder hulle.
Discussion
No comments for “Rugby — Gister en Vandag”
Post a comment