All News

BibberChill Fees 2008 Sal ‘n Wenner Wees

Smithfield se jaarlikse BibberChill Fees wat gewoonlik in die middel van die winter gehou word, sal vanjaar vroeër geskied op Saterdag 24 Mei, om die ergste winter koue te vermy. Dié dorp in die Suid-Vrystaat het groot planne vir BibberChill 2008. Daar word beoog om dit die grootste nog te maak.
Die Fees sal weer by die Smithfield se Gholfklub waar dit in 2006 gehou was, gehou word. Destyds was daar ‘n groot polemiek rondom die Fees omdat daar voorgegee is dat daar ‘n kompetisie sal wees om te sien wie kan ‘n skaap die verste gooi. Wat die kritici nie besef het nie is dat geen boer ‘n lewendige bate op so ‘n manier sal hanteer nie.

Daar sal meer stalletjies as voorheen wees, wat die grootste verskeidenheid handwerk, kossoorte, juweliersware asook baie ander produkte om elke smaak te bevredig sal uitstal.
Beplanning vir hierdie gewilde geleentheid is goed gevorderd. Spesiale aandag word bestee aan die kwaliteit van die vermaak by die aand se extravaganza wanneer puik kos vergesel sal wees deur bekende Suid-Afrikaanse kunstenaars op die verhoog. Tafels vir die spog geleentheid sal te koop wees om te verseker dat gaste nie alleen heerlik sal smul aan die kos nie, maar dat hulle ook die dienste van spesiale kelners wat hulle sal bedien, sal geniet.
Spesiale aandag word ook bestee aan vermaak vir die jongspan. Fietsresies sal die hele familie aan die gang hou en daar sal baie ander trekpleisters wees om die jongspan gelukkig en besig te hou wat ouers die geleentheid sal bied om hulle eie belangstellings te volg.
Vir dié wat in die geskiedenis belangstel sal “Ou Grietjie”, Smithfield se beroemde ou kanon van die Boere-oorlog, in aksie wees. Die kanon sal van haar gewone plekkie in die museum gebring word om saluutskote af te vuur by die amptelike opening van die fees asook op ander tye deur die loop van die dag.
Aandag word geskenk aan die behoeftes van stalletjie eienaars. Party sal binnenshuis gehuisves word terwyl ander buitekant in tente sal wees.
Daar sal ook reëlings getref word vir uitstallers van landbou masjienerie wat prominente uitstal ruimtes toegeken sal word.
Om by te dra tot die gees van die dag sal ‘n professionele seremonie meester deur die dag die feesgangers inlig oor alles wat plaasvind. Hy sal ook boodskappe uitsaai en musiek speel.
As deel van die dag se aktiwiteite sal ‘n kunsuitstalling met die titel “Art By Us” by die Red Barn in Smithfield self gehou word.
Voornemende borge kan vir Marli Botha, op 051 683 1101 kontak, en uitstallers en stalletjie eienaars moet vir Dolores Prinsloo op 051 683 0466 so gou moontlik kontak.

Discussion

No comments for “BibberChill Fees 2008 Sal ‘n Wenner Wees”

Post a comment

Recent Comments