Party oggende hier in Smithfield sal ‘n mens ‘n rare verskynsel sien – ‘n man wat op ‘n eenwieler ry. Dit sal Glendon McGill oppad na die Diepfontein Skool wees waar hy onderwys gee.
Glendon het die eenwieler eers verlede Kersfees as geskenk gekry. Sy belangstelling in die “kuns” is geprikkel toe hy gelees het van Lars Clausen wat dwars oor Amerika op ‘n eenwieler gery het. Glendon het tot nou toe ‘n volle 400 km op sy eenwieler gery waar-onder die fietsresies by die Bibberfees.
Volgens Glendon het hy goed gebruik gemaak van die lang vakansie verlede Desember om te leer ry. Hy kon ook op sy skoonpa se plaas van die drukgang gebruik maak om te help met sy heen-en-weer balans sodat hy op sy voor-na-agter balans kon konsentreer. ‘n Groot voordeel van ‘n eenwieler is dat as jy val is daar geen stuurstang om oor te val nie – jy maak dan ‘n grasieuse UPD (“Unplanned Dismount” in die jargon). Glendon het ‘n hele paar UPD’s gemaak maar hy vertel dat hy net twee keer nou rêrig afgeval het toe sy wiel net dood gestop het.
Een van die ander onderwysers het vir Glendon gevra om die kuns aan die graad R’s te demonstreer. Hy glo die proses om ‘n eenwieler te ry baie opvoedkundig is omdat daar ‘n hele paar wetenskaplike beginsels betrokke is. Eenwielers word al hoe meer populêr oorsee.
Vir die wat belangstel om meer te weet is daar ‘n webwerf: www.oddwheel.co.za.
Discussion
No comments for “Geen 2de Wiel!”
Post a comment