All News

Satansbos Lig Weer Sy Kop

deur Linda Retief
‘n Plaat satansbos is onlangs opgemerk waar die beeste se waterkrippe is bo-aan Voortrekkerstraat.
Die indringer plant staan bekend as “Silverleaf Nightshade” in Engels, terwyl sy botaniese naam Solanum Elaeagnifolium is. Volgens Landbou Navorsing is dit feitlik onmoontlik om die plant uit te roei eerstens omdat dit `n baie diep en goed ontwikkelde wortelstelsel het en dus nie uitgehaal kan word en tweedens, omdat dit relatief klein blare het en daar is dus nie `n goeie oppervlak om enige gif wat gespuit word op te neem nie. Daar is pogings aangewend om dit biologiese te beheer met spesifieke kewers maar dit was ook nie baie suksesvol nie.


Toetse is gedoen met gif wat deur die wortels opgeneem word en sekere van die gifstowwe was redelik suksesvol. Die gevaar van die plant is dat dit baie vinnig kan oorneem en dan groei die inheemse plante en gras vir weiding in dié area nie meer nie. Alhoewel dit nie giftig is nie, is dit nie ‘n plant wat beeste of skape graag eet nie.
Volgens die plaaslike Landbou Kantoor is die plant volop in Mofulatshepe. Tussen Reddersburg en Bloemfontein waar die plaas Koppieskraal geleë is, kan mens sien hoe het hierdie plant die lande oorgeneem. As mens nie weet wat dit is kan dit nogal mooi lyk met sy ligte pers blommetjies!
Plate van die plant moet by die Landbou Kantoor gerapporteer word. Hulle sal dan die munisipaliteit in kennis stel asook die Departement Hulbron Bewaring by Glen Landbou Kollege. Laasgenoemde is veronderstel om gif te voorsien om die plante te probeer beheer maar daar is dikwels geldelike probleme en die gifstowwe is duur.
Mense wat die plant in hulle tuine kry kan ‘n 3% oplossing van Roundup gebruik: 3ml tot 100ml. Dit sal waarskynlik weer verskyn maar hou aan – dalk wen jy!

Discussion

No comments for “Satansbos Lig Weer Sy Kop”

Post a comment

Recent Comments